God, Hoor U My?
Manage episode 451194279 series 3072738
Psalm 86:6,7 Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor.
Het jy al gevoel asof almal praat, maar niemand luister nie? Jy word daagliks in hierdie deurmekaar wêreld gebombardeer deur soveel mededingende stemme; soveel opinies; soveel e-posse; soveel boodskappe. Dit kan veral in 'n tyd van beproewing, 'n baie eensame plek wees.
Ons aanvaar al die tegnologiese hulpmiddels deesdae as vanselfsprekend. Byna almal besit slimfone. Ons stuur boodskappe, ons ontvang e-pos, ons maak oproepe, 'n vinnige Whatsapp hier, 'n Facebook-plasing daar, ‘n WeChat, ‘n Telegram, soveel keuses, soveel kommunikasie kanale... maar luister iemand regtig na jou?
Alexander Graham Bell is in 1847 in Skotland gebore. Soos die meeste van ons weet, het hy saam met sy vriend, Thomas Watson, die eerste telefoon ontwerp. In 1915 het mnr. Bell die eerste langafstand telefoonoproep van New York na mnr. Watson in San Francisco gemaak. Kan jy jou die opwinding voorstel van die oomblik toe hy geskakel het? Sou die oproep twee en 'n half duisend myl ver deurkom? Sou Watson optel? Sou hy luister?
Dit voel dikwels vir ons asof God ver is. Hy moet 'n besige Man wees; Hy het soveel hooi op sy vurk! As jy na Hom roep, sal jou oproep deurkom? Sal Hy optel? Sal Hy gereed wees om te luister? Sal Hy jou antwoord?
Psalm 86:6,7 Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor.
My vriend, wees verseker, God is altyd daar; altyd gereed om jou smeking om genade te hoor, altyd gereed om in jou dag van benoudheid na jou te luister en om jou te antwoord wanneer jy Hom aanroep. Altyd. Moet nooit daaroor twyfel nie.
Want dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
1440 에피소드